Ek het vandag bietjie my laptop se folders skoongemaak toe kom ek op my Herman folder af. Ek het die brief aan Herman 1 uur die oggend op 23 Augustus 2009 geskryf. Hulle se tyd genees alle wonde. Jy vergeet miskien so nou en dan van die hartseer soos jy aangaan met die gejaag van die lewe, maar elke nou en dan sien jy iets, hoor jy iets en dan raak jy bietjie stil en jou keel begin brand.

Fashion show toe ek nog ‘n student was!
Liewe Herman,
Meeste mense ken my as iemand wat nie verskriklik baie praat nie, maar die afgelope paar dae het ek baie op die hart. Ek is nie in staat om ‘n woord uit te kry nie, so ek tik maar nou.
Ek onthou dit soos gister toe jy jouself gaan inboek het by Olivedale kliniek. Ek was self in die hospital, 10 weke swanger met Liam. Ons het mekaar nog gesms en gebel uit ons hospital beddens. Ek en Henre het geweet jy het pyn gehad al vir ‘n lang tyd, maar ons het besef hoe jy gesukkel het nie. Henre was dood van bekommernis. Hy het daai aand lank na besoektyd eers by my aangekom in die hospitaal. Hy het by my op die bed kom le en die trane het by sy wange af gestroom.
Die volgende paar dae was baie moeilik vir hom tussen my en jou wat in die hospitaal le. Hy was reeds op die internet om navorsing te doen toe die Drs begin spekuleer het wat fout is met jou. Hy het gese hy dink dis kanker. Sy boetie het kanker. Ek het vir Henre gese ek is jammer en ek is saam met hom hartseer, maar ek moet sterk wees en kan nie ontsteld raak nie ter wille van ons baba. Binne het my hart gebreek omdat ek 2 jaar vroeer my ouma aan kanker moes afstaan.
Dis ‘n verskriklike tipe hartseer om ‘n geliefde te verloor aan die sinnelose siekte. Jy sien hoe hulle voor jou oe stukkie vir stukkie wegkwyn en daar is niks wat jy kan doen nie. Maar tog is daar altyd hoop.

Herman DJ op een van my bdays.
Jou pa het opgekom uit die Kaap uit en ons altwee was dieselfde dag nog ontslaan. Julle het by ons huis aangekom en ek onthou watter dapper front jy opgesit het ten spyte van die pyn waarin jy was. Jy wou net graag in ‘n warm bad gaan le met die hoop dat die pyn ‘n bietjie minder sou raak. Die volgende dag was julle Kaap toe en die dokters het in daai week bevestig dat dit kanker was.
Alles het daarna so vinnig gebeur. Jy het jou eerste operasie gehad en jou eerste chemo behandelinge. Deur alles was jy so positief en het nog steeds grappies gemaak. Henre moes jou woonstel gaan oppak siende dat jy die volgende paar maande in die Kaap moes bly vir die behandeling. Hy het my vertel hoe baie lee pynpil boksies hy gekry het. Sy hart het gebreek. Ek kon in sy oe sien hoe hy himself verwyt het dat hy nie meer aandag gegee het aan jou nie.
Die lewenstyl hier in Jhb is anders. Ons sal aanhou werk, genadelose ure, ten spyte van ons gesondheid en families. Jy sal weet, want jy het aangehou tot jy nie meer kon nie.
Die volgende paar maande het ons elke keer die goeie nuus gekry dat jy beter word. Jou tellings gaan af, die gewas het gekrimp. Voor ons ons oe uitgevee het was jy weer terug hier in Jhb. Henre het dit so geniet om saam met jou te werk. Ek het altyd na julle creative brainstormings gesit en luister die paar kere wat julle meetings hier by ons huis gehad het. Die snaakste was vir my die rugby ding met die tuin dwerge…
Ons het die afgelope paar maande baie meer van jou te sien gekry. Meestal maar etes hier by ons huis. Ek wens ons het jou meer genooi.
Liam is in April gebore en jy was so bang om hom vas te hou. Dis so onregverdig dat mens soveel geluk kan ervaar in dieselfde tyd wat jy met die hartseer in jou hart moet loop. Dit het gevoel asof ons vir al die maande vanaf September ons asems opgehou het tot ons sou hoor dat jy gesond is.
Toe kom die nuus dat jou tellings opgegaan het en die dokters stel voor dat hulle opereer. Selfs toe was jy positief en vol smiles. Jy was die Saterdagaand voor die operasie nog hier by ons vir ete. Ek wens ek het meer moeite gedoen. Ons het dit van selfsprekend aanvaar dat jy ok gaan wees. Ons het gepraat oor die planne vir wanneer jy terug kom Jhb toe na die operasie. Die volgende dag was jy Kaap toe.
Die aand voor die operasie het Henre jou probeer bel, maar jy het nie geantwoord nie. Ek het hom gekry in die spaarkamer in die donker waar hy besig was om vir hom ‘n sms te stuur. Ek kan nie dink hoe bang jy moes gewees het nie. Ek sou ook nie met mense kon gepraat het nie. Dis beter om agter ‘n getikte boodskap te skuil waar niemand die emosie in jou stem kan hoor nie. Soos ek nou en die afgelope paar dae.

My 30ste by Taboo.
Ons was so bly om te hoor alles het goed afgeloop en het baie uitgesien om jou te sien. Ek kan nie onthou wat ek alles vir jou gese het in die hospitaal Saterdag middag nie. Jy het so moeg gelyk, maar nog steeds het jy met ons gesels en gemaak of dinge nie so erg is nie. Ek sal jou blou oe van daai dag nooit vergeet nie. Ek het oppad uit die hospitaal vir die eerste keer oor jou gehuil. Henre het sy arm om my gesit. Ek was so vies vir myself. Ek was veronderstel om sterk te wees vir hom.
Hulle het jou reeds in die koma gesit toe ons Saterdagaand by jou aangekom het. Henre, jou ma-hulle, tannie Esme en Lynn was die volgende paar dae 24 uur by jou. Henre het vir my gese jy het geweet hy was daar en dat hy die heeltyd met jou gepraat het. Jammer ek was nie so baie daar nie. Dit was vir my verskriklik om jou so te sien. Ek het jou hand vasgehou, maar kon eers nie enige woorde uitkry nie. Ek moes op my tande kners om te keer dat ek nie voor jou huil nie.
Die hospitaal het nie toegelaat dat ons vir Liam saambring vir besoektyd nie. Ek wou so graag. Hy is so oulik nou en hy gaan jou Tigger vir jou oppas.
Ek kan nie dink hoe Henre en jou ma-hulle moet voel as my hart so in stukke is nie. Jou tannie Esme het dit vir my die beste beskryf: ek is stom van verdriet.
Ek wil graag vir jou jammer se.
Jammer ons het nie meer vir jou gedoen toe jy begin siek raak het nie. As ons jou dalk vroeer by ‘n Dr kon kry was jy dalk nog hier by ons.
Jammer ek het jou nie meer genooi na ons huis toe nie. Die lewe is so ‘n gejaag, as jy jou oe uitvee het daar maande verby gegaan.

Herman en Liam
Jammer ek het nie meer foto’s van jou en Liam geneem nie. Ek het die afgelope 2 dae deur al ons foto’s gegaan op soek na foto’s van jou. Jy het vir my so mooi gelyk by Heleen en Trevor se troue. Gesond. Gelukkig. Wie sou kon dink.
Jammer dat ons nie daar was toe die engele jou kom haal het nie. Dit was nie ‘n maklike besluit gewees om terug te kom Jhb toe nie. Hulle se as jy jou liggaam verlaat is daar iemand wat jy ken aan die ander kant wat jou met ope arms ontvang. Ek weet in jou geval was daar ‘n skare van gesigte. Almal op aarde wie se harte jy geraak het se geliefdes het vir jou gewag. As jy my ouma sien, se vir haar ek mis haar appeltert!
Ons het jou laaste Amp gekyk op MK Donderdagaand. Jy was so ‘n goeie presenter! Moenie vir Henre se nie, maar jy het vir hom bietjie ore aangesit! Ek het al vir Henre jare terug gese die twee van julle moes ‘n tipe van ‘n late night talk show doen in Afrikaans…laatnag met Skote Petoorse!

Trevor en Heleen se troue Junie 2009
Jy het soveel mense se harte geraak. Die boodskappe stroom nou nog in. Jy kan so trots voel. Almal wonder altyd wat hulle doel op aarde is en ons kan net terug sit met verwondering om te sien wat jy in jou 29 jaar bereik het.
Ons gaan jou legacy laat voortleef en Liam gaan weet watter amazing oom hy gehad het. Ek is net dankbaar dat julle tyd saam spandeer het. Jy is nou sy guardian angel. Ek kan met ‘n geruste hart weet dat jy na hom sal kyk.
Ons mis jou Herman. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Liefde,
Jou skoonsus.

Like this:
Like Loading...